Hoe om Lont te Ruik
 

‘n Kleuter sal enige iets eet. Dit maak nie saak of dit voedsaam of giftig is nie. Die kleuter het nie die vermoë om te onderskei tussen kos en gif nie.

Soos wat Christene in hulle geloof groei, is hulle veronderstel om te leer om te onderskei tussen geestelike gif en geestelike voedsel. “Vaste kos is vir grootmense, vir mense wat oor insig beskik en wat deur ervaring geoefen is om tussen goed en kwaad te onderskei” (Heb 5:14). Die probleem is dat die oorgrote meerderheid van die moderne “Christene” óf nie wedergebore is nie óf in ‘n ewigdurende staat van babaskap gehou word en sodoende nie oor die vermoë beskik om tussen die waarheid en dwaling te onderskei nie. As gevolg hiervan en ook omdat ons ‘n nuwe generasie kerkgangers het wat nie die Bybel ken nie, het die valse leraars in getal vermenigvuldig terwyl miljoene blindelings dit glo wat hierdie predikers hulle leer.

Om tussen waarheid en dwaling te onderskei is nie werklik so moeilik nie, solank as wat ons by ‘n paar basiese beginsels hou. Die eerste van hierdie beginsels is dat die waarheid absoluut is. Ek gebruik die term “absoluut” as die teenoorgestelde van “relatief”. Vir die meeste mense - Christene en nie-Christene - is die waarheid relatief. Hoe dikwels hoor ons nie:

Maar die waarheid is absoluut. Dit is onveranderlik en is ewe waar in elke tyd, kultuur en omgewing. God se waarheid verander nie en kry ook nie ‘n ander be-tekenis in ‘n veranderde omgewing nie.

Wat is die waarheid? Jesus het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe

(Joh 14:6). Die Waarheid is ‘n eerste persoon—Jesus Christus. Sy Woord is Waarheid. Jesus het gesê: “Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid” (Joh 17:17). Waarheid, die Persoon, verander nooit nie: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Heb 13:8). Waarheid, die Woord, verander nooit nie: “Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan, as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is. Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel” (Mat 5:18-19).

Die tweede beginsel is dat die Bybel volledig is. Baie mense dink dat God steeds voortgaan om nuwe openbaringe deur profete, predikers en visioene te gee. Maar dit is net ‘n leuen vanuit die Hel ten einde mense weg te neem vanaf die vaste fondamente van die Woord. In Hebreërs 1:1-2 lees ons: “In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.” Let op dat God gepraat het. Die grieks is baie spesifiek en dui die verlede tyd aan, met ander woorde, voltooid. God gaan nie voort om te spreek nie. Ja, ons somtyds verwys daarna dat God met ons praat maar daardeur bedoel ons eintlik dat God ons herinner aan dit wat reeds in Sy Woord gespreek is. Judas 3 sê: “Maar nou voel ek my verplig om julle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het.” Hierdie is ‘n akurate vertaling deurdat die geloof eens en vir altyd (vir ewig) oorgelewer is. Dit word nie voortdurend aan ons oorgelewer nie.

Teoloë praat van “progressiewe openbaring”. Ongelukkig is dit so dat sommige predikers nie die term verstaan nie en derhalwe aanvaar dat dit beteken dat God voortdurend meer en meer van Homself openbaar. Nee. Hy het ons die volle openbaring in Jesus Christus gegee en dit is vir ons neergskryf in die vorm van die Nuwe Testament. En dit is dit. Die volgende keer wat ons enigsins meer inligting gaan kry is wanneer ons Hom van aangesig tot aangesig sien. Ons kan absoluut oortuig en seker wees dat daar geen verdere openbaring sal wees in die tyd vandat Openbaring aan Johannes gegee is tot en met die openbaring van Jesus met Sy wederkoms.

Enige persoon wat beweer en daarop aanspraak maak dat hy of sy enige addisionele inligting ontvang het wat nie in die 66 boeke van die Bybel gevind kan word nie, is ‘n boerebedrieër en ‘n ketter. Om die waarheid te sê, ons vind in die Bybel verskeie vervloekings wat uitgespreek word oor diegene wat sou byvoeg, of wegvat, van God se Woord soos wat dit in die Bybel opgeteken staan (Deut 4:2; 12:32; Spr 30:6; Mat 15:6-13; Op 22:18). As ‘n prediker bereid is om die kleinste gedeeltetjie van die Bybel weg te laat (‘n letter of letterstrepie), dan moet jy op jou hoede wees. As hy in die een deel iets wegvat is hy daartoe instaat om by te voeg of weg te vat in enige ander gedeelte. Wanneer jy eers die kleinste gedeelte van die Bybel ondermyn, kan jy net sowel die hele Bybel en sy inhoud in die asdrom gooi.

Die derde beginsel is dat God nie van gedagte verander nie. Wat God gesê het sal vir altyd vasstaan en kan nie verander word nie. “U woord, Here, staan vir altyd vas in die hemel” (Ps 119:89). (‘staan vas’ beteken gevestig en onveranderlik.) “Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit” (Mat 24:35). “God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie, ‘n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie uitvoer nie?” (Num 23:19). Daarom, deur te suggereer dat God ander planne het vir die mense van vandag as wat Hy in Sy Woord bepaal het of dat Hy van gedagte verander het, of dat Hy Sy planne opmaak soos wat die geskiedenis ontvou, maak van God ‘n leuenaar en ‘n mens. Hy is nie een van die twee nie. Sy planne is reeds vas van tye voor die fondamente van die aarde. Hy het reeds, van die begin van tye, kennis van al die kinkels en kabels wat die mens en die geskiedenis sou maak. Hy pas nie Sy doelwitte en uitkomste aan soos wat die tye ontvou nie.

As ons dus aanvaar dat God geen ander plan, doel of wil vir ons het as dit wat reeds in die Bybel geopenbaar is nie en dat enige afwyking daarvan, hetsy in daad, woord of beginsel, kettery is, dan sal ons geen probleem hê om met gemak die meeste van die dwalinge van vandag te herken nie.

Moenie toelaat dat mense jou prober wysmaak dat slegs die geleerdes die Bybel kan verstaan nie. Ons kan almal die Woord verstaan. Maak nie saak hoe slim en met hoeveel oortuiging die argument aangebied word nie, as dit in teenstelling met die duidelike lering van die Bybel is, is dit dwaling. MAAR, daar is ‘n paar eenvoudige reëls wat ons moet toepas wanneer ons die Woord interpreteer en dit is dikwels wanneer hierdie reëls verbreek word dat ons opeindig met ‘n dwalende leerstelling. Ek weet dat nie almal hierdie reëls ken en hulle dus kan toepas nie. Maar enige gelowige wat gereeld en getrou sy Bybel lees, sal genoeg weet om lont te ruik en op die uitkyk te wees.

Ek glo dat niemand in dwaling kan opeindig deur doodeenvoudig in die Bybel te glo en dit in sy of haar lewe toe te pas nie. God het aan ons genoeg inligting gegee ten einde ons instaat te stel om ons te beskerm gedurende elke stadium van ons geloofsgroei. Eva het nie God se hele raadsplan geken nie, maar sy het geweet dat God haar verbied het om van die vrugte te eet. Sy het egter in die moeilikheid gekom toe sy geluister het na die Duiwel se weergawe van wat God gesê het. As sy by die eenvoudige waarheid gebly het van wat God vir haar gesê het, sou sy veilig gewees het.

Elke gelowige kan hierdie maklike en eenvoudige vraag vra: “Wys my waar staan dit in die Bybel.” As die leraar, prediker of onderwyser dit nie kan doen nie, of as hy ons gedagtes of die Woord wil verdraai en manipuleer om ‘n vierkantige vers te kry om in die ronde gat te pas, dan moet ons begin hardloop want dan is hy gevaarlik.

God se Woord is “die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad” (Ps 119:105). Dit verlig ons en dit lei ons. Dit bring ons nie in die duisternis nie en verwar of mislei ons nie. Vertrou op Sy Woord en as enige mens Sy Woord weerspreek, onthou: “Dit staan vas dat God betroubaar is en elke mens ‘n leuenaar” (Rom 3:4)